Ek weet nie waar ek aan die idee van ‘n paartie triek gekom het nie.
Dalk was dit my pa se stories oor sy kleintyd en die Boereplesiere in Dordrecht se distrik. Laataand is stories van sterk manne uitgehaal… ek kan nie onthou of dit by stories gebly het nie. Herklaas kon soveel sakke mielies bokant sy kop lig en daar was sprake van ’n tannie wat soos miesies Pagel ’n telefoongids in twee kon skeur…
Ek is seker my paartie triek kan net so verstommend wees. Ongelukkig kan ek nie onthou vir wie ek krediet daarvoor moet gee nie – dit is by ’n byeenkoms van Wisunde-onderwysers gehoor.
Hier is die triek: jy vra die aanhoorder moet aan enige getal minder as 60, dink. Jy, die trieker, haal dan jou stel kaarte uit waarop roosters met getalle is. Die deelnemer (getriekte?) moet dan al die kaartjies waarop sy geheime getal verskyn uitsoek en aan jou gee. Die trieker gee die kaartjies ’n vinnige kyk (dit hang af van sy of haar bedrewenheid met hoofrekene) en siedaar – die geheime getal word uitgewys!
Ek heg die stel kaartjies aan. Probeer dit gerus – volgende keer sal ek verduidelik hoe dit werk. Net ’n wenk – dit is gebaseer op die feit dat enige getal geskryf kan word as die som van magte van twee. (Wat ’n elegante manier waarop wiskunde ’n mondvol kan sê!)