En so hou ek weer skool…

 

“Ek is bang”, sê ek aan my susters. Hulle knik begrypend. Om op die ouderdom van 73 weer voor ’n klas Graad 8-kinders te staan, in vandag se tye met vandag se kinders, is immers nie maklik nie. Ek het wel tot onlangs klas gegee aan studente, maar hiérdie is ’n ander storie.

Ek is verlede jaar genader deur ’n groep wat bekend staan as “Friends of ….”*, om wiskunde aan een Gr 8-klas te gee. Daar was die afgelope klomp jare geen leerders in dié skool wat in Gr 10 gekies het om wiskunde as vak te neem nie en die groep “Friends” is daaroor besorg. Een van hulle, ’n plaaslike sakeman, het aangebied om ’n onderwyser te borg wat bereid is om ’n uitgesoekte groep Gr 8’s te neem vir wiskunde, met die doel om hulle te inspireer om verder te gaan met Wiskunde. Ek het ingestem.

*Ter wille van die kinders en onderwysers se reg op privaatheid, weerhou ek die identiteit van die skool.

By nadenke (alle ou mense dink mos na), besef ek dat “bang” nie die juiste woord is nie, dis eintlik meer ’n onsekerheid. Ek het duidelikheid oor wat ek wil bereik en is redelik seker oor hoe ek dit wil doen (om kinders toe te laat om in die eerste plek sin te maak van die vak), maar ek is ook realisties. Ek besef dat ek nie ’n towerstaf kan swaai om alles sal sommer te laat gebeur nie. Ek onderskat ook nie die uitdaging – om kinders wat waarskynlik nog min van die wiskunde wat hulle al gedoen het werklik verstaan het, sover te kry om hulle wiskundige denke in taal om te sit nie. En dis presies wat ek graag sal wil hê hulle moet doen.

My eerste ontmoeting met my kollega, Z, die wiskunde-leerkrag by die skool (wat die ander Graad 8’s en 9’s asook Wiskundige Geletterdheid gee), is baie positief. Ek het moed. Hy is ondersteunend en redelik. En realisties. Hy verstaan wat ek wil doen. Ons besluit op die keuringsproses – ons sal die diagnostiese toets van die Onderwysdepartement as basis gebruik. Ek stel ’n paar veranderinge voor en sluit items uit Malcolm Swan (1983). se diagnostiese toets vir desimale breuke in.

Read more…

 

En so hou ek weer skool...

Share This