Klaskamerkultuur
– wat is dit? Wat beteken dit?
Ek moet weer hieroor nadink, sodat ek vir myself duidelikheid kan kry oor wat ek wil bereik en hoe ek dit wil bereik. Wat jare se ervaring in baie klasse oor baie vlakke heen (dit sluit in werk met kinders in die Grondslagfase, die gee van somme in die laerskool en “wiskunde” in die hoërskool tot matriek en klasgee aan onderwysstudente) my geleer het, is dat die kultuur in die klaskamer bepalend is vir sinmaak.
Dit help om ’n ideaal voor te hou. Dit laat my dink aan my besoek jare terug aan ’n tweede kans-program saam met Jozua Lambrechts. (Waar is Jozua nou? Wat doen hy?) Dit was ’n groep jongmense aan die Oos-Rand wat deel was van ’n Eskom projek om jongmense wat hulle matriekwiskunde wou oordoen ’n tweede kans te gee. Die manier waarop hulle ’n gemeenskap van leerders gevorm het, bly my steeds by as die ideaal. Waarskynlik was die grootste faktor wat hiertoe bygedra het, dat hulle hoogs gemotiveerd was om die kans aan te gryp. Iets om oor na te dink.
Is dit moontlik in die omstandighede waarin ek nou werk?
Die klokke lui byna elke dag op ’n ander tyd, die kinders se kake werk oortyd aan die kougom wat verbete gekou word, daar is vreemde haarstyle, van die seuns het snorre, hulle lag vir ander goed as dit waaraan ek gewoond is… Ek aanvaar dat dinge by “my” skool nie altyd verloop soos wat dit in die skool was waar ek my hoërskooljare deurgebring het nie. Hier is nie ’n sterk ouerkorps wat in ’n posisie is om die skool en hulle kinders te ondersteun by skoolsake nie. Hier is nie ’n groot administratiewe personeel wat kan help om goedjies wat krap en skeefloop te hanteer nie. Al hierdie goed aanvaar ek blymoedig en maak die beste daarvan. Wat ek egter NIE aanvaar nie, is die leerkultuur van die kinders met wie ek werk. Ek haal prof Piet Human aan
“Elkeen kan hard werk daaraan om die leerkultuur te verander na een waar kinders sal sin maak van wat hulle leer. Moet nooit sê – die kinders (van hierdie ouderdom of hierdie gemeenskap) is maar so nie. Maak werk daarvan.”
Die primêre doel van wiskunde-onderwys behoort te wees die ontwikkeling van begryping van konsepte. Om wiskunde te ken beteken om dit te verstaan – en dit is NIE die memorisering van reëls of die vermoë om simbole te manipuleer nie.